Eugene Marais het lank terug reeds die wonder van ‘n donderstorm so pragtig saamgevat:
DIE DANS VAN DIE REëN
O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaalkaros met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!
Vanoggend is dit net blommetjies en blare en takkies waar jy kyk en stort jy maar vinnig terwyl die weerlig deur die badkamervenster flits 😉
Sjoe ja, hoe wonderlik was daai reën van gisteraand nie. Re die gedig, net verlede week sit ek en die kaktussie die spesifieke gedig en bespreek. Hulle het dit in Afrikaans behandel, sy sê toe so ewe sy gaan die dans van die reën doen, en sy hoop dit werk…wel ek dink dit het :-p
Dit het beslis! 😉 (sy moet maar weer dans, lyk my die wind het die wolke weggewaai!)
Hou jou inbox dop vandag *g* – ek’t nuus – GOEIE NUUS!!!
Jipppppieeeee!!!!!
Ek is so bly julle het reen gekry.. ek is bly ek het nie die donderweer beleef nie. Ons kapenaars is maar bang as die reen met so ‘n lawaai kom!!
Donderstorms is om reën te beleef!
Hoe lekker was dit nie om 5 uur wakker geblits te word nie? Ek is MAL oor die hoeveld donderstorms!
Ek ook!
Ek mis daardie gerammel en die wit blitse met hulle klapslae!!! Hier by ons is mos nie eintlik so-iets nie, en as hier is, kruip die kapenaars byna onder hulle beddens weg – MAAR: ons het WIND!!! en as hy waai soos hy moet, word die Transvalers stil en so bleek om die kiewe, en maak planne wat om te doen as die dak dalk sou lig.
En soek ‘n plek om aan vas te hou!
Ek mis daardie donderstorms wat jy dae lank sien opbou en dan val daar 100mm reën in minder as ‘n uur en die rivier kom af en stoot al die swemkuile weer vol. Heerlik!
Ek is baie bly dat dit uiteindelik gereën het by julle.
Hierdie was maande eerder as dae Krok 😉
Geniet die reën! Die Kaapse dokter is besig om die wolke met mening daar na julle kant toe te waai!
Ek is baie lief vir hierdie gedig… dit herinner my onder andere aan Matriek Afrikaans en arme Mnr de Beer wat my moes deurleef 🙂