Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘plaas’

 

Half tien op 'n Saterdagoggend

 

Ons is nog nie eers by die helfte van winter nie, al begin ek alweer regtig uitsien na bietjie warmte en vogtiger lug.  Saam met die koue en skurwe elmboë kom darem ook die troppe rooibokke, die groot njalabul met sy geel sokkies en swart skoene, die skaam ribbok en die trosse rooi en oranje aalwynblomme.

Read Full Post »

 

Saans na jy die stof van jou klere afgeskud en die beesmis van jou skoene afgestamp het (mens gaan nie in die huis in met vuil skoene nie!), dan is dit tyd om onder die boom te sit en ‘n drankie te drink terwyl mens kyk hoe die koedoes met hulle statige groot ore en wit stertjies koppe knik oppad na die water toe terwyl die fisante skree en die tarentale kekkel soos hulle regmaak om in ‘n boom te gaan slaap.  Dan klap die grondgeitjies klik-klik-klik en die son maak veldbrandjies teen die wolke…

Read Full Post »

 

Die Tulani “rivier” is gewoonlik net ‘n klein droë lopie met ‘n paar fonteine en hier en daar ‘n kuil vol krappe.  As dit reën soos dit die laaste paar weke gedoen het is dit ‘n heeltemal ander storie.  Dan raak dit ‘n brullende massa water wat alles wegvee wat in die pad kom.  Bome, rotse, drade, brue word nie gespaar nie.  Om daaroor te probeer ry terwyl die rivier afkom is nie eers ‘n opsie nie.

 

Nadat die ergste water al verby is

 

Dele van die bruggie hier bo (die foto is 2 jaar gelede geneem) is nie meer met ons nie, of eintlik, dis ‘n hele ent die rivier af 😉

 

‘n Boom wat in die pad was

 

Wat interessant is as mens loop en kyk na al die mag en krag wat die water in sy woede gehad het, is om te sien hoe groot bome en swaar rotse meegesleur is, terwyl klein ou plantjies nog steeds geanker staan op die rivierbodem.

 

Nadat ek eenmaal sonder ‘n boot by drie rapids by Vic Falls af is en so byna-byna versuip het, het ek nogal ‘n baie gesonde respek vir die krag van water…

Read Full Post »

Salig…

Eerste ding as ek klaar afgepak het op die plaas is om koffie in die blou emalje koffiekannetjie (die groot rooie is vir as hier meer mense is) te maak, op die stoep te gaan sit en net rustig te word.  ‘n Bietjie te kyk hoe die vinkies in die apiesdoringboom (hy’s nou al heelwat groter as vyf jaar terug) nes maak, die suikerbekkies se heen-en-weer tjirpery gade te slaan en te besef dat dit baie baie salig is.

 

 

Plaasdam

 

En as dit nog meer as ‘n 100mm die afgelope week gereën het en al die damme loop oor, dan word dit so lekker rustig in my hart.

Read Full Post »

 

'n Ligtoring vir almal om haar

 

 

Die snaaksste ding het ‘n paar maande terug met my ma gebeur.

 

Sy en my pa gaan stap een laatmiddag met die honde.  Terug by die erf staan en strooi hulle (as ek reg onthou) vir die wilde voëls kos toe die honde uitgelate en baldadig mekaar rondjaag.  Die volgende waarvan sy weet, het die honde haar skoon onderstebo gehardloop en sy lê plat op die grond met ‘n baie seer arm.

 

Nou ja, na ‘n inspuiting en pilletjies en salfies en dinge dog sy dit sal maar ‘n paar weke vat om heeltemal te herstel.  Verkeerd!  Sy is nou die dag terug na ‘n ortopeed toe – die een spier in die skouer is afgeskeur en moet so spoedig moontlik weer vasgeheg word.  So, môre word sy opereer.  Vir die soveelste maal die afgelope paar jaar.  Ai tog!

 

Sy sukkel deesdae nogal baie met haar gesondheid en moet kort kort een of ander operasie kry.  Ten spyte daarvan is sy altyd daar, soos ‘n ligtoring in almal se lewens.  En al raak die verf na baie jare bietjie op, bly die ligtoring altyd daar, skyn dit vir almal.

Read Full Post »

Gisteraand sien ek ‘n Thaise groenkerrieresep en ek dink onwillekeurig aan so 2 jaar terug:

“Lekker windgat jaag ek mos ‘n paar weke gelede op my motorfiets rond en kyk sommer ‘n bietjie rond, mens wil mos sien wat aangaan om jou.  Nou ja, die draaitjie was ‘n bietjie skerper as my reflekse en ek het soos ‘n sak watsenaam daar neergeslaat. Nie eers tyd gehad om te voel dat die val in stadige aksie gebeur soos wat dit gewoonlik voel as jy ‘n ongeluk maak nie.  Nie té seer gekry nie, ‘n paar dorings in my hande, bietjie nerf af, ego gekrenk en my knie was onder die fiets toe ek geval het.  Na so ‘n paar dae se hinke pink van die seer knie en ‘n bietjie styfheid voel ek perdfris.

 

Windgat op 'n bike

 

 

Die volgende naweek: sien al lank uit na ‘n lekker rustige lang rugmassering.  Gaan na ‘n Thai spa naby ons toe vir ‘n rug-en-nek massering, sommer 90 minute lank (niks van ‘n Thai massering genoem nie, so terloops).

 

Eers trek jy sulke wit linnerige pajama’s aan en dan was die Thai masseuse jou voete, dan lê jy omtrent plat op die grond op so ‘n dun matrassie.  Die vroutjie (sy was regtig nie groot nie) trek toe eers so aan my voete, toe draai sy hulle dat ek dink my stuitjie gaan morsaf breek.  Daarna begin sy toe op my loop – eers was dit nie té sleg nie, voete maak mos nie so baie seer nie.  Daarna besluit sy toe dat sy eerder daarvan sal hou om met haar knieë in my rugstringe in te boor.  Ek het eers probeer braaf wees en maak of dit nie so seer is nie, en toe ek daaroor gekom het, toe kán ek nie meer wys dat dit seer is nie.  Ek het nie geweet of ek moet inasem of uitasem of glad nie asemhaal nie, want alles het net ewe pynlik gevoel.  Daar lê en wonder ek toe oor die fisika van ‘n klein skerp elmboog met net ‘n bolyf bokant dit en ‘n groter ronde knie met ‘n hele mens bokant dit en besluit voorlopig dat laasgenoemde meer skade aan jou aanrig.  Volgende kom haar elmboë aan die beurt (die knieë was seker stomp na die eerste 45 minute)  – steeds dink ek dat dit nou die voorbereidende “sag brei” is, waarna sy my rug heerlik sag en strelend gaan masseer.

 

Gelukkig doen sy niks aan my skouerspiere nie, want dis gewoonlik waar die grootste knope sit.  Maar genade, kan enige iemand jou skouerblaaie so seer maak??

 

Volgende moet ek regop sit. Eers trek sy my arms agteruit terwyl sy teen my gat vastrap – vir ‘n verandering darem nie té erg nie!  Aha, misgis ek my toe met twee goed!: (i) die uitlos van my skouerspiere en (ii) my voorlopige gevolgtrekking oor die elmboog/knie seermaak teorie.  Alhoewel sy net ‘n kwartier of wat daarmee kon besig wees (tensy ek êrens my bewussyn verloor het, wat ook moontlik is), was die pyn so erg dat ek begin terugdink het aan die keer toe ‘n bees my op die heup geskop het en die ander keer toe ‘n perd ‘n beentjie in my voet afgetrap het.

 

Teen hierdie tyd dink julle seker 90 minute behoort nou min of meer verby te wees.  Maar nee, daar is nog ‘n paar minute of wat oor.  Word weer omgedraai, lê op my maag.  Voete word weer vasgevat. E en been word gebuig en plat oor die ander knie gebuig.  Lg. been word nou a la koeksister oor die platgebuigde been gevou – en toe druk sy en druk sy…

 

Dis nou twee weke later en ek kan omtrent nie stap nie, so seer het sy my knie (wat ek gedog het is tip top na my ego-krenkende val met die motorfiets) gemaak.

 

Uiteindelike gevolgtrekking: knieë en elmboë is uiters gevaarlike wapens waarvoor jy só versigtig behoort te wees dat jy spontaan aan die hardloop moet spring as jy hulle enigsins aan ‘n petite Thai masseuse sien. Soveel so dat jy nie eers hoef te wag om uit te vind watter een maak nou juis die seerste nie.”

 

 

 

NS: Ek hoop regtig die wolke kom gooi behoorlik uit vandag!!

Read Full Post »

Seën Liewe Heer die kos wat ek eet (jammer ek loer so bietjie onder gebed)…

My chomper is groter as joune!

Ek het grootgeword met neushoringvoëls (wie in die wêreld het so ‘n lomp naam uitgedink??) wat kok-kokke genoem word na hulle kok-kok-kok-kok geluide.  Hierdie een was later baie mak en het kossies van die vensterbank op die plaas kom haal.

Vat so!

Hulle is regtig interessante ou kreature, al is hulle eintlik vrek lelik en altyd effe onversorgd.

Read Full Post »