Feeds:
Bydraes
Kommentare

Archive for Junie, 2011

Plaas paddastoele

Een van die dinge wat ek graag nog wil doen is om sampioene te kweek.  Waar ek vandaan kom het daar elke jaar as dit reën, hier in Januarie rond, sulke reuse sampioene op die, ewe reusagtige, miershope uitgekom.  Dan was dit ‘n resies tussen die wild en die mense en goggas om te sien wie kon eerste hierdie lekkerste van lekkernye in die hande kry.  Blykbaar is daar al probeer om hulle kunsmatig aan die groei gekry, maar die simbiose tussen die termiete en die sampioene is iets wat niemand nog kon namaak nie.

My ma met majobas

'n Miershoop hoër as die telefoondraad

Vroeër die jaar kom ek in ‘n tydskrif af op ‘n plek wat sulke boksies verkoop met spore van oestersampioene en met groot verwagting stuur ek toe vir hulle ‘n e-pos.  Tragies kom die antwoord toe terug dat hulle ‘n hittegolf in Februarie beleef het en dat hulle eers weer in produksie sal wees baie later in die jaar.

'n Stalletjie wat sampioene verkoop in Barcelona

Ek wens so ons kon markte soos ‘n Barcelona hê met allerhande keps en sampioene, vars en gedroog, eerder as net die plaaslike vaal vervelige knopiesampioene en groot swart sampioene.  Hier en daar kry mens, dit kos natuurlik ‘n meer as ‘n fortuin, oestersampioene en by Woolworths die cluster sampioene.

Maar nou ja, eendag…

Read Full Post »

 

Die man wat in die blou woud stap stap alleen tussen die groot bome deur.  Hy plak nie sy hart op sy status nie, hy druk sy musiek net dieper in sy ore in.  Elke jaar aan die einde van die winter vat hy die pad iewers heen waar dit stil en alleen – baie alleen – is.  Die res van die tyd stap die man maar net deur die blou woud en trap blou spore wat niemand sien nie.

Read Full Post »

 

Hang my op aan jou woorde, aan jou bruin hande wat grys sement in aanbidding laat droogword.  Hang my uit in die kleur van duisende glaskristalle teen jou muur, in die botteloë van jou kameelperde en kameeluile.  Hang my, maar laat my nog lewe in koue beton op ‘n rypende wintersmôre met die wind wat die sinkdak laat klap.  Kompasberg weerkaats stil in die vuil spruitjie met die stemme ruiend in die kroeg waar nog ‘n kruis se geld uitgedrink word.  Drink my in die blink water van die leivoor, in die brand van bytsoda, die ogiesdraad voor die budgies.  Haak my nek vas agter my gladgekamde hare, keer dat ek uitmekaar brokkel in die stowwerige warmte, laat my sterf en voortleef in ‘n storie van twee wêrelde verwyder inmekaargevleg.

Read Full Post »

Gatslagge

 

Ek probeer regtig begrip hê vir die reuse slaggat wat skuins voor my huis is en nou al van November laasjaar so lê (iemand het nou die dag die oranje kegel omgery, so dié is nie eers meer daar om mense te waarsku nie), siende dat dit nou maar net ‘n ou straatjie is waar redelik min mense ry.  Maar hoe dan dat die grootpad tussen Gabarone en Johannesburg in ‘n toestand is dat geen regdenkende mens in die nag op die pad sal ry nie?  Hoe werk dit dat daar geen tolpaaie in Namibië of Botswana is nie en hulle paaie deurgaans in ‘n beter toestand is as hier?

 

Missing pad naby Koster

Read Full Post »

 

Klipklop weerklink voetstappe teen die stokou mure, met tekkietone wat voel voel oor die pad se klippies.  Omtrent niemand ry in die strate nie, dis hopeloos te moeilik en omslagtig.  Die son is al vuurwarm.

 

Dis tyd vir ‘n koue bier.

Read Full Post »

Boomklim

 

Flambojantboom in Grootfontein

 

Ons het ure in die flambojantbome in ons en ons bure se tuin rondgeklim en Tarzan gespeel, die peule vir swaarde gebruik en oopgebreek om die pitte uit te haal, of die nog-toe blommetjies oop te skil en diertjies daarmee te maak.

 

Dit laat my dink aan die grappie van Jannie wat boom klim en toe besef hy kannie weer afkom nie.

 

Hy roep: “Mamma!”

 

“Mamma!!”

 

“Mammaaaaaaa!!”

 

“Maaaaaaaammmmmaaaaa!!”

 

Maar sy ma is besig om RSG te luister in die huis en hoor niks nie.

 

Einde ten laaste besluit hy om maar te begin bid.

 

“Vader in die hemel, kan U my asseblief uit hierdie groot boom verlos.  Ek belowe ek sal baie soet wees vir die hele dag.  Uit genade alleen. A…

O ja, maar moet asseblief nie vir Jesus stuur nie, want hierdie is nie kinderspeletjies nie. Amen.”

 

 

Read Full Post »

Kom son

 

 

Een van die dae gaan die mossies my soggens wakker maak, dan begin ganse wat by die meer slaap wakker word, dan die minah’s wat in die boom om die draai bly, dan die luidrugtige hadeda’s, dan die vinkies en ander voëltjies.  Die son gaan skyn as ek werk toe ry en ek sal ook my sonbril aanhê as ek terugry daarvandaan.

 

Ek hou van die son, selfs al kruip hy agter donkergrys onweerswolke weg.

Read Full Post »

Older Posts »