Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Katastrofes’

Breyten Breytenbach sê in Katastrofes:

“Die lig val soos ‘n emmer water oor die vloer hy knip knip sy stywe oë soos ‘n uil.  Godverdomme en mens kan nie eers ongestoord oor die dood sit en dink nie.”

Maar help dit om heeldag ongestoord aan die dood te dink? Of gaan die lewe aan, of daar nou sin in is of nie?  Wat in die wêreld het in elk geval sin op ‘n intrinsieke universele vlak?

Weer ‘n maal Breyten (hierdie keer heeltemal uit konteks gekwoteer uit “Lewendood”):

“laat ons die skilde weer poets en die oë weer slyp

die dag kom op soos ’n swaard uit die skede”

Read Full Post »

Breyten Breytenbach het op 16 September 71 geword.  Met al die geharwar en rondhardlopery het ek skoon daarvan vergeet, maar ons gesels vanoggend dat die tyd vinniger raak soos jy ouer word, of soos hy dit stel:

“Die dae bliksem in mekaar soos water” (Om te Vlieg)

Ek skiet op die oomblik erg vraat met Breytenbach, wie ek dink by verre die mees bedrewe woordkunstenaar in Afrikaans is of was.  Baie ander mense het al meer toeganklike en vloeiende gedigte/boeke/stories/watookals geskryf, maar hy het ‘n unieke gawe om ‘n hele prentjie in ‘n enkele frase te prop en jou daarna te laat wonder of jy ooit moet moeite doen om self iets aanmekaar te flans.

Sy voordrag op die CD “Mondmusiek” is een van die kosbaarste geskenke wat ek nog ooit ontvang het.  My gunsteling is die ritmiese “ek sal sterf en na my vader gaan”.  Een van die ander gedigte daarop is net die geskreeu van treinwiele op ‘n spoor:

hiiiiieeeeeeee

dié patatranke langs die spoorlyn –
hoe séér
moet hulle ore net nie wees nie

In my boekrak staan daar 25 (en nog 2 dubbels) van sy boeke, uitgegee deur ‘n duisternis uitgewers in ‘n warboel van formate, in verskillende tale, style en diktes.  Oor een ding is ek bekommerd, dat ek dit alles sal klaar gelees kry, soos in heeltemal klaar.  Aan die ander kant, dis tog te lekker om ‘n boek oop te maak waar ek ‘n papiertjie ingesit het en weer tonekrullekker te kyk wat my oog gevang het met die eerste leesslag.

Dis seker ‘n snaakse vergelyking om te tref, maar baie van die dinge wat hy kwytraak is waarhede wat in ‘n ander vorm en tyd waarskynlik saam met iemand soos Sun Tzu genoem kon word:

”mens meet die heelal aan die lengte van jou is” (Lewendood)

Dan dink ek altyd weer aan Camus en Kafka as ek van veral sy vroeëre werke lees.  Maar sy goed is anders, meer beknop en moeiliker om as sommer net ‘n storie te lees.  Jy moet dit mooi kyk, in jou kies prop en dit heen en weer kou voor jy dit gemaklik kan insluk.

Terwyl mens van die een krisis na die volgende verantwoordelikheid haas, dan kan jy maar net glimlag as jy lees:

”voordat die ordentlikheid aan ons begin hang het

’n vrag onwelriekende hare

ons het die stropdas om die nek begin pas” (Lewendood)

Daar is ’n risiko dat ek myself vir ’n erge aandoening van die Dunning-Kruger effek[1] oopstel, maar ek vind Breytenbach se werk nie moeilik om te verstaan of om by die storielyn te hou van wat hy skryf nie.  Miskien is dit omdat ek doodgewoon nie opgelei is om poësie te analiseer nie of moontlik omdat ek gewoonlik ’n bietjie te vinnig lees.  Hoe dit ookal sy, ek geniet dit, sy werk boei my geweldig en dis vir my heerlik om weer en weer te dink aan hoe fyn hy groot idees kan saamvat:

”ek was meesal bankreupel en ’n paar keer bankrot

ek was al slim gewees en dikwels gelukkig dom” (Lewendood)

My ma sê onlangs dat sy sy werk nogal as morbied ervaar, iets wat ek daarna natuurlik baie meer oplet as tevore.  Wat jy wel ook kan byvoeg is dat daar niemand is wat dood en raakpunte met morbiditeit met soveel smaak en kleur aan ’n leser kan weergee soos hy nie:

”Die lig val soos ‘n emmer water oor die vloer hy knip knip sy stywe oë soos ‘n uil. Godverdomme en mens kan nie eers ongestoord oor die dood sit en dink nie.” (Katastrofes)

Hy skryf vele male oor dinge wat my nerf soms redelik dun maak, soos mense wat nie vir hulleself wil dink nie.  Sy manier van stel is net soveel meer elegant en interessant as hoe ek kon hoop om dit te stel:

“Mens word net so lui soos ’n ballon.  Ballonne luister altyd.  Buitendien, het jy al ooit voëls of vlieërs of wolke met ore gesien ?  Hoe groter die ore, des te stadiger en meer aardgebonde die wese.  Dink bv. aan die olifant.  Is daar dan ore aan vuurpyle? A maar vlieënde pierings is vir gekke en dwase.” (Om te Vlieg)


Vir my is dit asof daar in baie van die sinne nog ’n hele storie kan wees.  Een wat jy vir jouself kan uitdink of vir iemand anders kan vertel.


[1] “a cognitive bias in which an unskilled person makes poor decisions and reaches erroneous conclusions, but their incompetence denies them the metacognitive ability to realize their mistakes.  The unskilled therefore suffer from illusory superiority, rating their own ability as above average, much higher than it actually is, while the highly skilled underrate their abilities, suffering from illusory inferiority.” Wikipedia

Read Full Post »