Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘spreekwoorde’

 

 

“Kom nou julle twee, ek probeer my horende doof en siende blind hou om te kan balke saag, maar julle maak nou praatjies vir die vaak.”

 

“Ja Pa, erken maar, Pa kan nie slaap nie want ledigheid is die duiwel se oorkussing en Pa weet mos hy is so skelm soos die houtjie van die galg.”

 

***

 

Voor die eerste mossie poep klink daar ‘n kloppie aan die deur wat so toe is soos ‘n kleios se gat.  “Kom seun, gaan span gou die kar voor die perde sodat alles klopdisselboom kan loop as ons soontoe toe en terug ry op die oumeid se rug.”

 

“Paaaa! Ons het nie soos Pa saam met die hoenders gaan slaap nie.  Buitendien, as Pa my gister gehuur het kon Pa my vandag gestuur het”

 

“Jou klein niksnut! Vandag dons ek jou op tot by oom Daantjie in die kalwerhok.  Hoe dink jy nou, hoe sal dit wees? Ek meneer, jy meneer, wie sal dan die wa moet smeer; dat ons kan jaag soos ‘n vetgesmeerde blits?”

 

‘n Bietjie later: “Ons gaan darem lekker deurdruk balke toe!”

 

“Tja! En hoeveel onse is daar miskien in jou pond.  Julle windlawaaie is gou by die bak, maar lekker lui by die vak.  Ek’s lus en los julle hier soos uile op ‘n kluit.”

 

“Toe Pa, vat ons saam, ons belowe troes nannies dat ons môre sal bakstaan en die werkies tjoef tjaf kafdraf.  Maar Pa moet darem ook briek aandraai met ons, hulle sê dis die flukse perde wat flou word.”

 

“Ja ja toe!,  Hulle vreet skille en honne dra brille, maar gaan dit nou oor die hondjie of die halsbandjie, jy weet mos baie honde is ‘n haas se dood!”

 

“Ja oom, dood het mos altyd ’n oorsaak, oom weet mos…”

 

“Ja ou groot lantern, weinig lig, ons sal maar sien môre as dit by die moue oprol kom, dan kom daar weer dadels van.  Die woorde syn goed, maar die eende lê die eiers.

 

“Kom julle nou, aanhef lê nog voor en die son trek al weer water.  As ons by ant Grieta aankom sê julle vir haar ons het net kom vuurhoutjies haal, ons moet nog ver ry.”

 

“So sê Pa altyd, maar ons weet mos van onse Pa: alte goed is buurmansgek”, merk hy droog op en vertel hoe hy plaas soek vir sy drie koeie.

 

“Seuna, jy’t ‘n knoop opgetel, nou wil jy ‘n baadjie daarom naai!  Die mense sal dink jy jaag bokke aan as hulle hoor jy wil plaas koop met daai drie rammelkas koeie.  Onthou, die aand lê nog ver, jy het dan nog kwalik ‘n kers nodig om te skeer.”

 

“Pa, daai plaas gaan ek koop – liewer afslyt as afroes!”

Advertisements

Read Full Post »

Hierdie is spreekwoorde wat ek van kleintyd onthou, heelparty wat ek nie regtig nog by ander mense gehoor het nie:

“Dood het ook ‘n oorsaak”

“As jy my gister gehuur het kon jy my vandag gestuur het”

“Ek meneer, jy meneer, wie sal dan die wa moet smeer?”

“Die woorde syn goed, maar die eende lê die eiers”

“Horende doof en siende blind”

“Hulle vreet skille en honne dra brille”

Helaas, ons praat almal al meer en meer pidgin Afrikaans…

Read Full Post »