Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Sareltjie soek ‘n maat’

 

Magda besig om voor te lees

Ek wil vandag se bloginskrywing begin deur te sê dat dit ongelooflik lekker was om saam met Magda van Biljon te werk.  Sy is ‘n geweldige knap mens wat presies weet wat sy doen.  Die hele opset en al die idees het regtig wonderlik te werk, sy is fenomenaal!  Sy het die kinders en ouers tog te lekker in die storie ingetrek en laat saam doen.

 

Mense in die gehoor besig om saam te lees

Ons het ongelukkig nooit kans gekry om by die Oude Libertas-amfiteater saam met die klankmanne deur die storie te werk nie, so ons was maar bietjie benoud oor hoe alles gaan werk en waar ons al die maskers en posters gaan opsit op die vuurwarm verhoog (wat gelukkig Saterdag ‘n halwe dak oorgehad het).

 

Pappa die wildwagter

Nadat ek (julle sal my nie gou weer in so ‘n 2-tone hemp sien nie, ek het gedog ek gaan dood van die hitte!) en Magda eenmaal deur die storie gelees het en al die diereklanke gespeel het, het ons van die kinders in die gehoor gevra om ‘n volgende keer saam met ons die storie op te voer.

 

Almal wil op die verhoog verskyn

Krok het die maskers vir die produksie gemaak, almal was gaande daaroor en die kindertjies het mekaar omtrent uit die pad gestamp om tog net ook ‘n kansie te kry om ‘n leeu of ‘n arend te wees!  Vir haar wil ek ook baie dankie sê, dit was baie ure se harde werk en het baie professioneel gelyk.

 

Al die maskers op die staander

Behalwe vir die klein seuntjie wie se voete op die warm verhoog gebrand het, het die kinders hulle gate uit geniet om al die diere na te maak.  Die leeus het gebrul en hulle stappies gestap, die olifante het slurpe geswaai en met groot pote getrap terwyl hulle ore heen en weer swaai, die arende het om en om gevlieg en later het die hasies verby kom hop.

 

Sareltjie met sy swepie en houtswaard

Die leeus en die visarende

 

 

Olga en haar kalfie

Vlakkie vlakhase

Die byspelers so bietjie later in die storie was die gemsbok met sy lang horings, die luiperd wat gesluip het, die gompou met sy stywe bene en die springende padda.  Hulle het toe al gesien wat doen die vorige spelers, so dit het baie jolig gegaan na die einde toe.

 

Almal dans saam

Die zebratjie was seker die mooiste van die hele klomp.  So ‘n klein ou seuntjie – sy ouers was verskriklik trots oor hoe mooi hy gespeel het!

 

Pajama die zebravulletjie

Fiona van Kerwel-hulle van die Woorde Open Wêrelde program het vir ‘n klomp kindertjies by hulle skole van die boeke uitgedeel.  Tydens die voorlesing het die meeste outjies saam met ons deur die boek gelees, dit was heerlik interessant om dit van die verhoog te staan en dophou! Toe ek na die tyd almal se boekies teken wou ek omtrent op my rug val toe ek sien hoeveel daarvan is reeds mooi netjies met plastiek oorgetrek en name opgeskryf.  Ek hoop dis vir hulle lekker om elkeen hulle eie boekie te kon kry.

 

Almal staan mooi in 'n ry om hulle boeke te laat teken

 

Die Woordfees was ‘n ondervinding en ‘n half!  Ek dink Melt Myburgh-hulle is besig om ‘n erfenis op te bou wat lank na hulle betrokkenheid nog steeds deel sal wees van Stellenbosh.

 

(Die foto’s is almal deur Corina geneem – baie dankie vir al jou moeite en dat jy selfs ophou kamp het om te kon konsert hou 😉 )

 

 

Read Full Post »