Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Swakop’

Een van die onthou-ondervindings in my lewe (en ‘n groot voorreg om te kon beleef) was die vlug wat ons van Swakop na Sossusvlei en terug kuslangs verby die wrak van die Bohlen en oor Walvisbaai gedoen het.  Die absolute volume van die sand in daardie reuse duine, die rotsformasies, die uitgestrektheid van die woestyn, die verlatenheid van die ou mynbedrywighede was alles deel van die spesiaal-maak.

Ons vlieënier was in ‘n klas van sy eie.  Ek het nog nooit voorheen of daarna saam met iemand gevlieg wat beter as hy kan nie.

Rotsformasies net suid van Swakopmund

Regaf in die Kuiseb Canyon

Sossusvlei

Duine in die Sossusvlei omgewing

Bohlen wrak

Die Bohlen wrak - ongeveer 500m van waar die strand nou is (en uit 'n vliegtuig geneem!)

Advertisements

Read Full Post »

 

Oor jare en regimes bly hy maar net so staan

 

 

Om geen spesifieke rede nie sit en dink ek hier in my kantoor, terwyl die donderwolke tromme slaan, aan die vuurtoring by Swakop.  Hy vat maar nogal baie weer, maar ek onthou dit net so soos toe ek in sub A daar langs gestap het skool toe.  Vandag is daar net ‘n restaurant met oulike diertjies waarmee die kinders kan speel.

 

 

Read Full Post »

Toortsie en Seegogga het beide gevra ek moet oor vuur skryf, so ek het seker nie ‘n uitkomkans nie 😉

Die versengende hitte van die grys gebakte woestynrotse wat teen die kante van die Swakoprivier uittoring tap die drif uit die alleenman wat in die vaal mika-gespikkelde poeierstof voortploeter om by die see uit te kom.  Hier en daar haak ‘n daalderbossie op ‘n hopie sand vas tussen verdwaalde houte wat vaalgroen wag vir eendag se water.  ‘n Snede van ‘n lankalgedig haak soos ‘n wind in sy ore vas:

 

En die geckos klop wie-ghie-kjie-kjie

as sekelmaan die sterreskitter probeer oorskadu.

Die daalderbosse wag gedwee

dat stofbedekte tamariske hulle blaar vir blaar

uitdobbel, met stemme

wat bruisend teen die rotswalle uittrommel.

 

Hy ruik die visserigheid wat van die see af aangespoel kom en wonder of sy kop begin losraak as hy die bierbottels hoor klap en die hops in sy neus opkruip.  Sy voet haak vas net toe hy opkyk en ‘n jakkals onder die kameeldoringboom sien lê met ‘n tong wat druppels sweet uit hyg.  Struikel struikel val hy tot die pad gelyk raak en hy ‘n bakkie van agter hoor aankom.

 

Agter op die bakkie moet hy gou nader aan die kap skuif, weg van die koue seelug se byt as hulle oor die laaste duin die dorp in ry.  Die geur van Duitse brötchen slaan uit die bakkery op as die gekhakiede gids hom langs die straat aflaai.  Dan drentel hy rustig af see toe en wag op ‘n bankie dat die vuur in die see verdrink, op sy eie – met die foon wat nooit lui nie.

 

 

Alleen in Swakop

 

 

Die son kan verdrink maar die groot vuur hou nie op om te brand nie.

Read Full Post »

Sandput

 

Quad bike op die duine

 

Een van die heel lekkerste dinge wat ek al ooit gedoen het was een van die kere wat ons met quad bikes in die Namib naby Swakopmund gery het.  Die oggend het almal in die groep gery (as deel van ‘n klomp verskillende aktiwiteite waaraan almal kon deelneem), met heelparty mense wat effe onbeholpe was, so dit het maar stadigerig gegaan om seker maak nie te veel mense verongeluk nie.  Aan die einde van die eerste rit was die duine omtrent helfte kleiner soos die sand in mense se klere en gesigte en ore en ander plekke vasgesit het nadat grondkopery om een of ander rede begin aantreklik lyk het in die woestyn.

So ‘n paar ure later was daar weer ‘n kans, toe het ‘n klomp van ons wat bietjie beter kon ry weer saam met die gids gegaan.  Hierdie keer het ons heelwat vinniger gery, hoër duine uitgery, esse bo teen die kruin gekap, “funnels” gery – sommer heelwat meer adrenalien, vir ‘n spul groot seuns in ‘n reuse sandput! 🙂

Later die middag, toe al die ander langs die swembad gelê of by die see gaan stap het, het ons terug gegaan en ‘n laatmiddag trip saam met dieselfde gids gedoen.  Teen hierdie tyd het hy geweet hoe goed/sleg ons kon ry en het dit nogal lekker begin raak!  Die grootste probleem met laatmiddag is dat die son reguit oor die duine in jou gesig skyn en op ander plekke baie donker skaduwees maak.  Die wind het kwaai begin waai en ons moes elke kort kort agter ‘n duin stop om eers bietjie behoorlik asem te skep.

Van die lekkerste dinge op die trip was om bo-op ‘n reuse duin stil te hou, die quad uit rat te haal en dan af te “free”, sonder om aan die petrol of briek te raak (dit sal waarskynlik noodlottig wees teen daai spoed).  Dis amper asof jy valskermspring met die gesuis van die wind en die enjin wat net so saggies luier.  Die ander was om tot op een van die baie hoë duine in die omgewing te ry en met die laaste strale van die son wat die duine allerhande skakerings rooi kleur te sit en kyk na die myle en myle sand met die see aan een kant terwyl die wind wolkies sand op die duin rondwaai.  Vir eens was almal stil…

Read Full Post »