Die eerste maal was ek, as ek reg onthou, in st. 8. So die derde van die kinders in die skool se ouers het vir die Weermag gewerk en so ‘n derde was plaasjapies. Ons het groot geword met terroriste en ontruimingsoefeninge en prentjies van hoe verskillende land- en personeelmyne lyk. Maar die oggend toe ons hoor hoe die van Tonders op Abenab vermoor is, was die hele skool verslae en teen die grond.
Abenab is ‘n ou myn net so entjie buite Grootfontein en ons het met die fietse daarheen gery en in die myn geswem en kleilat gespeel in die syskagte.
Die skurke het die oom en tannie agter die bakkie aangesleep, hulle met panga’s doodgekap en toe in die mynskag afgegooi.
Maar dit was lank gelede, in ‘n ander land in ‘n ander tyd in ‘n ander bedeling.
Laas jaar kry ek ‘n kopie van Karin Brynard se boek “Plaas Moord” as ‘n geskenk. Die boek is ‘n “whodunnit” wat op die ou end niks te doen het met die begrip “plaasmoord” soos wat ons daaraan dink nie. Ek kan maar net dink dat sy, indien sy persoonlike ondervinding van plaasaanvalle gehad het ‘n ander titel sou kies, maar nou ja, elke mens moet maak soos dit vir hulle goed is.
Soggens lees ek die Business Day, Star en Beeld. Dit is opmerklik hoe die Engelse koerante en TV-nuus daarvan wegskram om te praat oor die veiligheidsituasie op plase. Dit wil voorkom of dit vir hulle, soos Chris Roper skryf in een van sy opinies, dink dat enigiemand wat iets daaroor sê “right-wing morons” is. Is ek dan ‘n verregse rassistiese moroon omdat ek omgee wat met plaasmense, mense soos my ma en pa, my broer en sy gesin, gebeur? Is ek ‘n idiotiese kakie-draende swarthater omdat dit my bekommer om saans op die plaas langs die vuur te sit met my pistool op my skoot terwyl ek tussen die nagklanke luister vir vreemde geluide?
Voor in my kopie van Treurgrond het Chris van Zyl geskryf:
“Nie alle leesstof hoef mooi te wees om betekenis te hê nie.”
Anders as wat mens seker sou verwag is daar geen gruwelfoto’s in die boek nie. Vir elk van die vorige 20 jaar is daar ‘n berig oor een plaasaanval en dan ‘n lys van die plaasaanvalle wat hulle in Beeld se argief opgespoor het, 2 617 altesaam.
In sy voorwoord skryf hy:
“Meer Suid-Afrikaanse boere is vermoor as die totale getal mense wat tydens die Mau-Mau-opstand in Kenia, die Portugese onttrekking uit Angola en Mosambiek, die aanslag teen die destydse Rhodesië en die era van die Grensoorlog in die noorde van Namibië vermoor is.
En die gewelddadige aanvalle duur voort.”
Wanneer gaan iemand wat ‘n plaas bewerk en bestuur weer net ‘n boer kan wees wat vir hulself ander mense kos produseer en nie ‘n gewelddadige rassistiese slawehandelaar nie wat almal in die land ontneem van kosbare grond en geleentheid om te ontwikkel en om opgelei te word?
Later raak dit maar seker net makliker om jou kop weg te draai en te vergeet.
Read Full Post »