Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘reën’

 

Die Tulani “rivier” is gewoonlik net ‘n klein droë lopie met ‘n paar fonteine en hier en daar ‘n kuil vol krappe.  As dit reën soos dit die laaste paar weke gedoen het is dit ‘n heeltemal ander storie.  Dan raak dit ‘n brullende massa water wat alles wegvee wat in die pad kom.  Bome, rotse, drade, brue word nie gespaar nie.  Om daaroor te probeer ry terwyl die rivier afkom is nie eers ‘n opsie nie.

 

Nadat die ergste water al verby is

 

Dele van die bruggie hier bo (die foto is 2 jaar gelede geneem) is nie meer met ons nie, of eintlik, dis ‘n hele ent die rivier af 😉

 

‘n Boom wat in die pad was

 

Wat interessant is as mens loop en kyk na al die mag en krag wat die water in sy woede gehad het, is om te sien hoe groot bome en swaar rotse meegesleur is, terwyl klein ou plantjies nog steeds geanker staan op die rivierbodem.

 

Nadat ek eenmaal sonder ‘n boot by drie rapids by Vic Falls af is en so byna-byna versuip het, het ek nogal ‘n baie gesonde respek vir die krag van water…

Read Full Post »

Eugene Marais het lank terug reeds die wonder van ‘n donderstorm so pragtig saamgevat:

DIE DANS VAN DIE REëN

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaalkaros met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

Vanoggend is dit net blommetjies en blare en takkies waar jy kyk en stort jy maar vinnig terwyl die weerlig deur die badkamervenster flits 😉

Read Full Post »

 

Dis baie duidelik dat ek op die oomblik reën (of eintlik die gebrek daaraan) op die brein het…

 

Vanoggend lê die wolke pikswart omtrent 200m van die grond af en elke kort kort val daar ‘n paar fyn druppeltjies.  Daar was selfs ‘n donderslag of wat, so ons hou maar duim vas.

 

Ek weet nie presies waar die sêding vandaan kom nie (dink dis van my pa se ouma af), maar my pa sê altyd:

 

“Môrereën en die ouvrou se dans is een; albei is vroeg van die baan.”

 

Ons hoop maar die ouvrou het vandag Red Bull gedrink 😉

 

 

Read Full Post »

Vanoggend

 

Vanoggend het dit eintlik geruik of dit nogal een of ander tyd moet reën.

Read Full Post »

Reën

Reënwolke naby Gobabis

Ek wens ek wens dit wil bietjie kom reën.  Lekker groot plonserige druppels wat jou sopnat maak en na pannekoek laat verlang.  Met lekker toringwolke wat in die wind verby bondel en patroontjies maak in die lug.

Read Full Post »