Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘feetjies’

Uiteindelik breek die tyd aan, gesiggies swart gesmeer van wegkruipertjie speel agter die stamme van die blou woud – almal in klompies klompies aangefladder met hulle bont kolle-vlerkies, party van blaartjies gevou, ander het vliegmiere se vlerkies aanmekaar gebind. Party het hulle eie vlerkies met nektar gesmeer om mooi EN lekker te lyk, ander het roosblaartjies op hulle vlerkies vasgedruk.

Die hele bos se klein-bevolking is daar, dis ‘n opgewondenheid wat die lug vul. Almal sien uit om te kyk hoe dit binne lyk, of tema gaan werk by die nuwe plek, die nuwe partytjiehoekie wat hierdie jaar uitgekies is deur die soekslangetjies wat altyd alles orals besoek en bekyk.

Dan kraak die deur uiteindelik oop – en verstaan die kabouters hoekom die paddas die hele week so afgunstig was en probeer keer het dat die partytjie nie moet plaasvind nie. Want daar, in al hulle glorie sien hulle ‘n nuwe towerwêreld, een wat hulle hulself nooit ooit sou kon voorstel as ‘n plek om partytjie te hou nie.

Totale konsternasie breek uit onder die gaste – almal probeer opgewonde vertel hoe slim die soekslangetjies gekies het, hoe anders hierdie partytjie gaan wees as enige vorige tema-partytjie, selfs die “psychedelicasy of gerberas” een.

Die enigste een wat stil-stil probeer wegsluip is pappa skurwepadda, want hy het per ongeluk die een paddastoel plat gesit. “Weet ook nie vir wat noem hulle die simpel goed paddastoele nie, kabouterdakkies dalk, maar vir ‘n padda is dié goed g’n gemaak nie.”

 

Advertisements

Read Full Post »

 

(‘n bietjie agtergrond)

Die tema-partytjie kom al van toentertyd af. Niemand weet regtig wanneer of hoekom dit begin is nie, soos dit maar met hierdie tipe dingetjies gaan. Daar is wel baie teorië en legendes oor die begin, maar niemand weet regtig nie.

Wat hulle wel weet is dat dinge in die tydjie voor die partytjie skeef kan loop, sommmer baie skeef. Dit herinner die stappie deur die blou woud hulle elke jaar as hulle aandrentel en wegkruipertjie speel tussen die groot swart bome.

Dit het eintlik só gekom…

Een jaar was die tema “psychedelicasy of gerberas”, gekies nadat die een van die bosfeetjies op ‘n babertonse madeliefie in die veld afgekom het. Die vaal ou naaldekokers met hulle valerige vlerkies en gryserige lyfies het gesit en wonder wat hulle gaan doen om dinge by die partytjie op te kikker. Sien, hulle was nie juis van die “fancy dress” tipe nie, maar na die vorige jaar se neusoptrekkerigheid het hulle besluit om die bul by die horings te pak en alles te laat uithang. Niemand weet eintlik waar hulle naam vandaan kom nie, maar nietemin, hulle raak toe die middag al vroliker en die kleure om hulle raak al hoe intenser en helderder. En daar vlieg een van die naaldekokers toe in ‘n verspotte oomblik een van blommeverf-feetjie se verfpotte raak. Dit was ongelukkig die grootste pot, een propvol blou verf. Eers het dit gelyk of dit nie te ernstig is nie en die naaldekoker het verheug terug gevlieg met sy plan vir die tema-partytjie.

“Julle, julle! Ek het die blinkste van blink planne! Kom ons verf ons lyfies rooi en oranje en blou en allerhande kleure vir die partytjie!! Daar staan potte en potte vol verf om die hoek waar blommeverf-feetjie dit wegsteek. En weet julle wat sal ons nóg beter laat lyk? Ons vat van die skittergoud en strooi dit oor ons vlerkies, dan blink dit as die lig daarop speel! Dink julle nie dis ‘n blink plan nie?”

Al die naaldekokers het saamgestem en dadelik opgevlieg na die verfblikke toe. Met al die werskaf en vliegery om die verf het niemand agtergekom dat die blou verf stadig maar seker besig was om deur die woud te loop nie. Nie tot een van die kabouters, met sy bloedrooi madeliefie hoed op, opmerk: “Haai, kyk hoe blou is die klokkies op my skoene” nie.

Van die res van die partytjie kan niemand veel onthou nie, behalwe dat dit beslis psychedelicious was.

 

Read Full Post »

 

(Hierdie is ‘n weer-pos van ‘n vorige bloginskrywing, verskoning vir diegene wat dit voorheen gelees het!)

 

 

Vroeg die oggend, kwalik nadat sy ingekruip het, spring die doudruppelfeetjie uit haar blarebedjie op en fladder liggies by elkeen van die bos se kabouters verby.  Saggies fluister sy in hulle groot spits oortjies om maar op te staan en hulle kleertjies te begin uitskud, om solank ‘n doudruppel of drie te soek om klaasvakie se sandjies uit hulle ogies te was hulle bossiekoppe met die moswaslappies te kam.

Die bontgeel skoenlapper se kolle is die tema van die partytjie en die uitnodigings stel dit duidelik dat elke kaboutertjie moet moeite doen om ‘n paar vlerkies te prakseer.  Die ‘n sub-tema is grassaadspiese – eintlik meer sodat almal mekaar kan kielie om die joligheid aan die gang te kry.

Later in die dag het die suikerbekkies alreeds kelke vol nektar bymekaar gemaak en die sprinkane het hopies kersietamaties in die groentetuintjie gaan pluk.  Met haar vars nuwe ligte pienk rokkie is die blommeverf-feetjie net bekommerd dat die stoute kabouters vanaand weer lus gaan kry om tamaties te gooi.

Die kabouters is weer glad nie gepla oor moontlike kosgevegte nie, hulle HOU daarvan!  Waaroor hulle bekommerd is is die paddas…. Blaarkabouter is juis gister agter die kop geklap toe hy verby pappa skurwepadda probeer sluip het.

Maar hoe dit ookal sy, hierdie partytjie gaan die partytjie van die jaar wees!

 

 

Read Full Post »