Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Leon von Moltke’

 

Half tien op 'n Saterdagoggend

 

Ons is nog nie eers by die helfte van winter nie, al begin ek alweer regtig uitsien na bietjie warmte en vogtiger lug.  Saam met die koue en skurwe elmboë kom darem ook die troppe rooibokke, die groot njalabul met sy geel sokkies en swart skoene, die skaam ribbok en die trosse rooi en oranje aalwynblomme.

Read Full Post »

(Ek het ‘n tydjie terug ook hieroor geskryf)

 

 

TT Cloete beskryf dit dat jou tone omkrul van lekkerlees in die eenvoud van die eenvoudiges“:

 

die aarde behoort aan die eenvoudiges

die eenvoudiges se eenvoud is die sout

van hulle aarde wat strek tot in die troposfeer

 

…….

 

alles voeg in die klein kring van die oog

en in ‘n hol hand

                 alles is naby en bereikbaar

daar is geen plek vir ‘n plek

bo hulle vuurmaakplek nie

.

hulle vra nie waar die sterre vandaan kom

en waarheen hulle op weg is nie

die ewige son en maan die sterre is daar

sedert die skepping finaal afgehandel is

.

klip en suurstof was van die begin af

klip en suurstof

.

geseënd is die eenvoudiges

hulle voer ‘n natuurlike bestaan

soos die roos in die tuin fotosintetiseer

en die dolfyn en walvis in die see biologeer

 

…….

 

vir die eenvoudiges is woorde wat op on

begin soos ontevrede of ongelukkig

taboe       onrus is taboe en veral

onseker en onwetend

onthuts of ontwrig en ongemak

en die onbekende

.

woorde wat op ‘n growwe ge– begin soos geluk

of gesond en gewete is hulle skoon besit

en dié wat suutjies uitloop op –loos

soos stryd- en foutloos

.

die enigste konflik is die woord konflik

 

…….

 

hulle hoef nie vir die pyn te oefen

voor die pyn opdaag en knaag nie

.

die eenvoudiges is tevrede met ‘n cv

so netjies verdig

dat dit inpas in ‘n grafskrif

.

makgemaake mossies wat vry is maar die koutjie

met kraanwater en broodkrummels verkies

.

(die gedig is 8 bladsye lank, so ek het maar stukkies hier kom plak)

Read Full Post »

Die fyn winterreën sif teen die rietdak neer.  Die vyeboom langs die huisie se blare vroetel opgeskrompeld onder die vaal stokkerige takke rond, met net nog die mossie wat kroeserig en windverwaaid sit en kommentaar lewer.  Een slaapkamer – koos onder die bed vir laatnag as ouma se blaas vol raak, ‘n badskamer met deurgeskuurde enamel voetjiesbad.  In die kassie in die badkamer, bokant die groot ou wasbak (met witgekalkte krane wat oeeeeeeeeee skree in die koperpype as jy hulle oopmaak), is ‘n pak disprins en ‘n botteltjie vicks.

Haar voetjies skuifel skuifel op die hobbelrige plankvloere wat elkeen sy eie kraak en kreun maak.  Sy het net gaan sit met die potjie tee met sy wol teemussie op toe sy die klop hoor.  Eers het dit geklink of die wind die ou slot heen en weer ratel.  “Ja boeta, kom kom kom binne dat jy nie so nat reent nie.  Kan tannie vir jou help?”

“Middag mevrou.  My naam is Zdeñek, ek is van Karlovy Vary in Tjeggië, maar ek werk nou al vir ‘n paar jaar op ‘n wildsplaas daar anderkant Dwaalboom in die bosveld.”

“Goeie herre my kind, dis gans aan die anderkant van die wêreld! Wat bring jou hier in ons geweste, boonop nog in hierdie reën en wind ook.  Sit dat ek vir jou ‘n koppietjie tee kan skink.  Jy moet maar verskoon, die kleingoete het nou die dag my laaste mooi pierinkie gebreek, ek het nog net die een ou koppietjie.  Sê weer van die bosveldse plek waar jy vandaan gekom het?”

Sy tel haar kierietjie wat die oom vir haar uit die olienhoutstomp gekerf het op, haar krom jigvingertjie met die tieroog ring sukkel om die knop vas te vat.  Sy vryf oor die gehekelde kombersie wat sy nog vir Arrie wil gee en kyk op toe hy die koppie op die tafeltjie sit.

“Dwaalboom mevrou.”

Die klein swart Welcome Dover stofie maak ‘n vrolike dreungeluidjie en die vlammetjies loer deur die windgaatjies as klein rokies by die stoofplate probeer uitkom en dan eerder die skoorsteen opskiet.  Die hout is netjies in die rakkie gepak met die hopie ou Huisgenote langsaan.

“Nee jong, in hierdie kontrei praat ons nie van mevrou nie, almal ken maar vir my as tante of ouma, die skooljuffrou se huis is doeikant toe, twee blokke op daar teen die bult naby die waterpomp.  Nou is die Dwaalboomse plek groot, ek het nog nooitie daarvan op RSG gehoor nie.”

“Nee mevr… tante, dis net so klein plekkie, baie soos die plattelandse dorpies van my land.

“Dankie tante, die tee sal nou heerlik smaak, ek is verskriklik nat.  Julle mense dra mos nie sambrele en baadjies saam in die winter nie.  Of eintlik, ek bedoel nou die boere daar bo in die bosveld.

Teen die muur hang die kerkalmanak en hy kan sien daar is hier en daar ‘n naam neergestip in netjiese regop potloodskrif, seker almal mense wat op en af in die straat bly, in hierdie dorpie sonder heinings en drade, waar al die huise so vrolik op die straat sit en lag.  So anders as die kasteelmuur waar hy vandaan kom.

“O ja, eintlik hoekom ek geklop het tante, as ek nou so ongeskik mag wees terwyl ek nog tee drink.  My bakkie het sonder diesel gaan staan en ek wou eintlik net kom uitvind het waar die vulstasie is.”

“Giehiehie boeta, dat jy nou allie pad van doer af kom en in onse dorpie kom loop staan, dit sal ek beslis vir ta’ Martie moet vertelle!  

“Nee, nee, hier in onse ou dorpie is nie meer ‘n petrolpomp nie, díé staan al en roes van oompie Gertjan oorle’ is so paar jaar terug.  Al genade is, jy sal maar seker hier moet slaap jong man.  Môre kan ons vir Pieta gaan vra om jou te vat, maar vannag gaan niemand vir jou deur die drif vat met die waters nie.”

“Haai nooit mevrou, ek kan mos nie so iets doen nie, mevr… tante ken my dan skaars! Ek sal net my tee klaar drink, dan stap ek weer na my bakkie toe, ek sal ok wees daarin.”

“Jaaaa kjend, julle mannetjies van vandag, dink ook julle is te goed vir als.  Maar laat ek nou vir jou vertel; vanaand kan jy maar net hier slaap, net hier voor die stofie, jy sal verkluim buite in hierdie koue.  Ek het nog van die sop oor wat Meraaitjie vir my gebring het vanoggend en vir ontbyt is daar nog ‘n stuk of drie anysbeskuite oor.”

Read Full Post »

In 1985 het ek ‘n koshuiskamer saam met ‘n lewendige rooikopseun gedeel wat op daardie stadium in Oshakati gebly het.  Ek het al vergeet hoe ons munte by die SA Munt bestel het (en as ek reg onthou nog die Australiese Munt ook).  Ons het saam in Oshakati gaan kuier met die army bus wat 60km/h gery het al die pad van Grootfontein af Oshakati toe en heelwat kattekwaad aangevang.  Sy pa is aan die einde van die jaar verplaas en ons het heeltemal kontak verloor – tot hy my so paar maande gelede op Facebook opgespoor het.

 

Groot was my verbasing toe ek uitvind dat hy en sy familie die Ceres Zipslides (foefieslides soos ons dit genoem het) bedryf.

 

Hierdie naweek het ek die geleentheid gekry om weer vir Gawie te sien en op die slides te gaan ry.  Wat ‘n ondervinding!

 

T.s.v. die 26 jaar sedert ons mekaar gesien het was dit asof ons mekaar gister laas by die koshuis gesien het en ons het geklets soos vinke in ‘n doringboom.  By my aankoms het die son nog geskyn, maar met al die geselsery was die kouefront al bo-op ons teen die tyd wat ek uiteindelik in my reënpak (dankie Vader tog!) en my harnas was.  Maar nou ja, in for a penny, in for a pound!

 

Die gids wag vir mense om oor die kloof met waterpoele onder te gly

 
Die slides begin met ‘n kort plattetjie en raak dan al steiler (vinniger) en langer soos dit aangaan.  Ek het veral die vinniges en langes baie geniet, dis nogal blitsig in die nattigheid.  Die langste slide is 240m, wat soos ek dit verstaan, die langste in die land is.
 
Daar was ‘n paar klein kinders in die groep en ek dink hulle het dit die meeste van almal geniet!  In elk geval, dis iets wat min of meer enigiemand kan geniet, maak nie saak hoe oud of jonk, fiks of onfiks, atleties of onatleties jy is nie.
 
 

Ek kyk hoe die mense ingly (ek lek daai kabels se gat om te breek van daai ankers af)

 
 
 
Ek het al voorheen by hulle kompetisie in die Tsitsikamma gery, maar vir my was hierdie ongelooflik professioneel en vriendelik, die toerusting was splinternuut en baie goed versorg, so ek sal dit regtig baie sterk aanbeveel as jy iets opwindends wil doen!
 
Dankie julle, dit was heerlik!
 

Read Full Post »

 

Ek weet nou nie of mens dit nog herfs kan noem as dit ses grade in die oggend is nie (ek het amper daaraan gedink om vanoggend my handskoene aan te trek toe ek werk toe ry).  Maar hierdie jaar se herfs, waarskynlik na die baie reën en koel somer, is meer intens en kleurvol as wat ek dit kan onthou van vorige jare.  Soggens as die son begin opkom skyn dit goue glitter op die grasperk waar die neutboom sy blare en pekanneute op die gras strooi as niemand in die nag kyk nie.  Die hadeda’s se blougroen vere flits in die son as hulle snawels die in die grond wurmpies oppik.  Bedags begin dit lekker raak om in die sonnetjie te sit en lees sonder om ongemaklik warm te word.

Herfstuin

Soos Ingrid Jonker geskryf het:

Moenie slaap nie, kyk!

Agter die gordyne begin die dag dans

met ‘n pouveer in sy hoed

Read Full Post »

 

Saans na jy die stof van jou klere afgeskud en die beesmis van jou skoene afgestamp het (mens gaan nie in die huis in met vuil skoene nie!), dan is dit tyd om onder die boom te sit en ‘n drankie te drink terwyl mens kyk hoe die koedoes met hulle statige groot ore en wit stertjies koppe knik oppad na die water toe terwyl die fisante skree en die tarentale kekkel soos hulle regmaak om in ‘n boom te gaan slaap.  Dan klap die grondgeitjies klik-klik-klik en die son maak veldbrandjies teen die wolke…

Read Full Post »

Een van my gunsteling Suid-Afrikaanse beeldhouers, Eduardo Villa, het aan die einde van sy lewe die “fout” begaan om op dieselfde dag as Osama bin Laden te sterf.  Dis nogal tragies om slegs hier en daar beriggies van so ‘n wonderlike mens raak te lees in die koerante en op die internet.

(As jy belang stel, hier is ‘n kort stukkie wat op die timeslive webblad verskyn het oor hom).

In die tuin tussen van ons geboue staan twee van sy werke (in ‘n boek oor Villa is hulle nogal krities dat beide werke weggesteek is en nie tot hulle reg kom nie – wat myns insiens nie heeltemal ongeregverdigde kritiek is nie).

(In die visdam aan die agterkant van die Investec-gebou)

(Op die grasperk langs die gebou).

Ek het eenmaal vir ons kuns kurator gevra hoekom hulle maar nie eerder die groep perde op die tweede foto laat verf nie, dit lyk nogal flenterig so half geroes half geverf.  Toe sê hy hulle het met die ou man (Villa is oorlede op 95) gepraat, hy wil hê dit moet bly soos dit is, dit is soos dit veronderstel is om te wees 🙂

Nou ja, hy is nou waar mot en roes nie meer verniel nie.

Read Full Post »

Older Posts »