Feeds:
Bydraes
Kommentare

Posts Tagged ‘Stupka-stories’

 

 

As die son dreig om sy kop oor die horison te druk sien Milos Pavel die lang strepe van die vliegtuie wat goudblink teen die oggend se dowwe blou blink.  Hy skud sy kop toe hy dink dat dit nou vakansietyd by die huis is.  Hy wonder wat Jarmilla vandag doen, of hulle nog partymaal na Burgas op die Swart See gaan vir hulle vakansies.  Van Brno af was dit nie te ver nie, al was die Škoda nie altyd so betroubaar gewees vir lang ritte nie.

 

Hy verlang na die weemoedige swaar note van Ma Vlast, na die koue platteland met die groot woonstelblokke in elke dorpie.  Dáár het hy nooit voor die son opgestaan nie, dit sou doodeenvoudig vreemd wees om voor die haan se kraai by die laboratorium op te daag.

 

Ten minste waardeer die boeremense hier sy kennis en insig, nie soos die spul verwaande Franse wat reken alles uit Oos Europa is deur die hond aangedra nie.

 

“Mmmm… ‘n knertsie slivovice om die ete mee af te skop, helder sampioensop met ‘n gekookte eier in, of ‘n lekker stuk gebakte kaas met ham, dan goulash met gesnyde kluitjies en rooikool saam met ‘n lang glas bier.  Ai, dit sou nou lekker wees!”

 

Op sy selfoon blink die liggie en hy lees die sms: “Dobri den ou grote, speel jy nog lekker akkerbouer daar in die verte? Wanneer nooi jy my vir ‘n kuier daar, die somer is amper op sy kop hier in die noordelike halfrond. Mwah!”

 

Is dit toeval of werk die heelal maar so?

Read Full Post »

Die fyn winterreën sif teen die rietdak neer.  Die vyeboom langs die huisie se blare vroetel opgeskrompeld onder die vaal stokkerige takke rond, met net nog die mossie wat kroeserig en windverwaaid sit en kommentaar lewer.  Een slaapkamer – koos onder die bed vir laatnag as ouma se blaas vol raak, ‘n badskamer met deurgeskuurde enamel voetjiesbad.  In die kassie in die badkamer, bokant die groot ou wasbak (met witgekalkte krane wat oeeeeeeeeee skree in die koperpype as jy hulle oopmaak), is ‘n pak disprins en ‘n botteltjie vicks.

Haar voetjies skuifel skuifel op die hobbelrige plankvloere wat elkeen sy eie kraak en kreun maak.  Sy het net gaan sit met die potjie tee met sy wol teemussie op toe sy die klop hoor.  Eers het dit geklink of die wind die ou slot heen en weer ratel.  “Ja boeta, kom kom kom binne dat jy nie so nat reent nie.  Kan tannie vir jou help?”

“Middag mevrou.  My naam is Zdeñek, ek is van Karlovy Vary in Tjeggië, maar ek werk nou al vir ‘n paar jaar op ‘n wildsplaas daar anderkant Dwaalboom in die bosveld.”

“Goeie herre my kind, dis gans aan die anderkant van die wêreld! Wat bring jou hier in ons geweste, boonop nog in hierdie reën en wind ook.  Sit dat ek vir jou ‘n koppietjie tee kan skink.  Jy moet maar verskoon, die kleingoete het nou die dag my laaste mooi pierinkie gebreek, ek het nog net die een ou koppietjie.  Sê weer van die bosveldse plek waar jy vandaan gekom het?”

Sy tel haar kierietjie wat die oom vir haar uit die olienhoutstomp gekerf het op, haar krom jigvingertjie met die tieroog ring sukkel om die knop vas te vat.  Sy vryf oor die gehekelde kombersie wat sy nog vir Arrie wil gee en kyk op toe hy die koppie op die tafeltjie sit.

“Dwaalboom mevrou.”

Die klein swart Welcome Dover stofie maak ‘n vrolike dreungeluidjie en die vlammetjies loer deur die windgaatjies as klein rokies by die stoofplate probeer uitkom en dan eerder die skoorsteen opskiet.  Die hout is netjies in die rakkie gepak met die hopie ou Huisgenote langsaan.

“Nee jong, in hierdie kontrei praat ons nie van mevrou nie, almal ken maar vir my as tante of ouma, die skooljuffrou se huis is doeikant toe, twee blokke op daar teen die bult naby die waterpomp.  Nou is die Dwaalboomse plek groot, ek het nog nooitie daarvan op RSG gehoor nie.”

“Nee mevr… tante, dis net so klein plekkie, baie soos die plattelandse dorpies van my land.

“Dankie tante, die tee sal nou heerlik smaak, ek is verskriklik nat.  Julle mense dra mos nie sambrele en baadjies saam in die winter nie.  Of eintlik, ek bedoel nou die boere daar bo in die bosveld.

Teen die muur hang die kerkalmanak en hy kan sien daar is hier en daar ‘n naam neergestip in netjiese regop potloodskrif, seker almal mense wat op en af in die straat bly, in hierdie dorpie sonder heinings en drade, waar al die huise so vrolik op die straat sit en lag.  So anders as die kasteelmuur waar hy vandaan kom.

“O ja, eintlik hoekom ek geklop het tante, as ek nou so ongeskik mag wees terwyl ek nog tee drink.  My bakkie het sonder diesel gaan staan en ek wou eintlik net kom uitvind het waar die vulstasie is.”

“Giehiehie boeta, dat jy nou allie pad van doer af kom en in onse dorpie kom loop staan, dit sal ek beslis vir ta’ Martie moet vertelle!  

“Nee, nee, hier in onse ou dorpie is nie meer ‘n petrolpomp nie, díé staan al en roes van oompie Gertjan oorle’ is so paar jaar terug.  Al genade is, jy sal maar seker hier moet slaap jong man.  Môre kan ons vir Pieta gaan vra om jou te vat, maar vannag gaan niemand vir jou deur die drif vat met die waters nie.”

“Haai nooit mevrou, ek kan mos nie so iets doen nie, mevr… tante ken my dan skaars! Ek sal net my tee klaar drink, dan stap ek weer na my bakkie toe, ek sal ok wees daarin.”

“Jaaaa kjend, julle mannetjies van vandag, dink ook julle is te goed vir als.  Maar laat ek nou vir jou vertel; vanaand kan jy maar net hier slaap, net hier voor die stofie, jy sal verkluim buite in hierdie koue.  Ek het nog van die sop oor wat Meraaitjie vir my gebring het vanoggend en vir ontbyt is daar nog ‘n stuk of drie anysbeskuite oor.”

Read Full Post »

Jan Stupka staan stram op toe die voorsitter die verhoor verdaag sodat almal kan eet en wakker word.  Dis die derde maal dat Tomas Hruska voor die Paneel verskyn oor die insident met Franz.  Jan se gevoelens beier heen en weer soos ‘n stokou kerkklok; albei is tog sy vriende.  Of was eintlik, hy sien nie een van die twee meer by die kroegie om die hoek van die Rudolfinium nie.  Niks was daarna dieselfde nie en die skokgolwe spoel steeds oor die organisasie.  Sy mou haak vas aan die vel papier waarop hy verveeld geteken het en hy skrik as hy sien wat hy geskryf het:

Die kaalgeskeerde koppe knik

blink onder die skel wit lig.

Syerig trek die lawwe pers lappe

hulle asems vas in blouhempborse

net naweke vrygelaat,

los om  liefgemaak te word.

Afgeremde praatgate spoeg woorde uit

hier en daar wasig ingeneem,

slaapnewels wat uit die sagte stoele

deur hul knopboude kruip.

 

Girts blaai hy om

 

wit.

Read Full Post »

Die rustigheid van ‘n nuwe jaar, na die dollerige uitrus van ‘n somervakansie aan die ander kant van Zdeñek se wêreld, klim in sy neusgate op en waai die donker wolke van permanente bedonnerdgeit geleidelik oor die horison.  Hy verlang terug na die kluitjies en goelash van U zlateho tygra, befaamde Goue Tier-kroeg in Husovastraat, die eeue-oue plaveiselsteentjies wat sy voetstappe in die laatnag weerklink.  Hy dink aan Ludmilla met haar kierie wat klop klop op die sypaadjie stap met haar toegeknoopte swart leerjas, haar gemaklike hare-uit-die-oë swaai, hoe ver sy voel op sulke dae.

Milos kom sopnat gesweet met sy Oakley-sonbril bo-op sy pet soos ‘n wafferse eietydse Afrikaanse boerseun uit die veld gestap met die rooi houtkappersbyl oor sy skouer.  Al kan hy homself lekker help in die vreemde boere se taal kon hy die swaar lomp byle van die ko-öperasie net nie baasraak nie.  Deesdae sukkel hulle nie meer met hom nie, as hy die byl twee maal op die grond geklop het en dan gemaklik op en om swaai is daar min manne in die omgewing wat kan byhou. Hy waai vir Zdeñek en beduie vir dié om solank ‘n glas wyn te skink.  Hoe gaan dit met Franz Havel wonder hy? Na die messteek-insident met Tomas Hruska het Franz moeilik teruggepas in die oor-die-wêreldvliegery om Karossa-busse te smous aan munisipaliteite.  Elke vreemde kyk, elke grenspos het net gedreig om te veel te word.  Selfs die vakansie hier by hulle op Eenzaamheid het nie veel gehelp nie.

Onder die groot apiesdoringboom sit Zdeñek en Milos en kyk uit oor die rustigheid van die oorvol gronddam sonder om te praat.  Elkeen se gedagtes tuimel oor sy eie berge en af in klowe tot Zdeñek sy glas neerplak, opstaan en met “Ek moet vir Ludmilla gaan kuier” omdraai en kamer toe stap.

Read Full Post »