Feeds:
Artikels
Kommentare

Die berggans

 

 

Boerneef skryf “die berggans het ‘n veer laat val van die hoogste krans by Woeperdal”.

 

Ek neem aan daai gans het nie aan hoogtevrees gely nie, want daai krans is BLEDDIE hoog!

 

 

Vanoggend is ek weer lus vir ‘n bietjie Breyten.  Eintlik is ek altyd lus vir Breyten, maar dis ‘n ander saak.  Kyk hoe mooi vertel hy van IS in Lewendood:

 

 

 

“mens meet die heelal aan die lengte van jou is

daardie vuurhoutjieland van voorlopigheid

waar leeus op maanlignagte kom

om die lig van die sand te lek

en die duister altyd na truin sal ruik

waar die bome musiek uit die wind kan streel

en hane ’n wagwoord aan die son moet gee”

Knap

 

Vandag is so ‘n heerlike dag, ek verlang sommer na grootword op die plaas en partymaal sommer tweekeer op ‘n dag lekker ver gaan perdry.  My pa het Knap (waar die naam vandaan kom, weet nugter alleen, maar dit was nogal baie gepas) by ‘n werker op ‘n buurplaas gekoop.  Van die begin af was dit ‘n baie lewendige perd en dit was eintlik net ek en hy wat die perd onder beheer kon hou.  Maar genugtig, was dit nou ‘n plesier om met hom te ry!  Hy het later net spoorloos verdwyn.  My pa het die hele kamp deurgesoek, maar met die reuse erdvark- en ander gate kon hy baie maklik soos ‘n groot speld verdwyn.

Die kraak van die blare in die duin as die perd ritmies daarop trap, met die groot dolfhoutbome se blare wat begin uitkom en die fisante wat onder die swarthaakbosse wegskarrel en dan uiteindelik opvlieg om weg te kom.  Die reuk van die ryp gras in die warm son, die swiep van sy stert om die perdevlieë weg te jaag.  Die vlakvark wat op sy knieë staan en eet en nie agterkom jy sit en kyk vir hom nie.  Die sonbesies wat oorverdowend in die bome sit en raas.  Hoog bo in die lug ‘n berghaan met sy vlerke wat soos ‘n langboog gekleur is en sy kort stert.

Beskermengel

 

 

Ons het mos ‘n beskermengel wat oor ons waghou op die heuwel bokant die dieretuin.  Om op te ry in Rivierastraat as die son onder gaan is een van die gesigte wat my altyd sal by bly.

(ek klink seker al of ek op my ou ramkiekie met nog net een snaar speel, maar veldbrande lê swaar op my hart)

Gister is die volgende waarskuwing gepubliseer:

“The Department of Cooperative Governance and Traditional Affairs in Mpumalanga would like to warn residents in the province that the Highest Fire Danger (FDI) forecast for the fire season to date is expected for today and tomorrow (1 to 2 September 2011). The High Fire Danger Index means the spread of wild fires is very likely throughout the province.”

Ek dink verskriklik baie aan die mense daar en hou styf duim vas dat die hele provinsie nie weer afbrand soos paar jaar gelede nie.

Die skade deur veldbrande veroorsaak (terloops, een kommentator skryf: “I’ve got a feeling this is a return of the Scorched Earth policy, except this time it is not the British doing it.”) in die Noordwes en Vrystaat is meer as wat mens se brein kan inneem en ek verstaan hoekom hulle dit tot ‘n rampgebied verklaar.  Hier is ‘n paar aanhalings uit nuusberigte van die afgelope week of wat:

Free State fire death toll rises

“Two more people have died in veldfires in the Free State this week, bringing the number of death so far to three, Working on Fire (WoF) said on Thursday.”

“Hundreds of farm animals have also died in fires which have ravaged the Free State, North West, Limpopo and parts of Gauteng and KwaZulu-Natal, said WoF spokesperson Evelyn John Holtzhausen.”

“He said current estimates of the area that was burnt in the Free State was 117 943ha.  The areas that were worst affected were Vredefort 22 000ha, Kroonstad 12 000ha, Zastron 10 000ha and Memel with 8 000ha.”

“In Limpopo, fires had destroyed about 50 000ha of farmland, said WoF.”

 

 

NW-brande: Nóg ’n boer kry erg seer

“Nóg ’n boer van Noordwes se toestand is kritiek nadat hy verlede week ernstige brandwonde in verwoestende veldbrande in die provinsie opgedoen het.

Mnr. Pieter Lewis (67) van die Enkelbospad-omgewing naby Koster is verlede Maandag deur vlamme op ’n trekker oorval toe hy en ander boere in die omgewing ’n brand probeer blus het.”

“Die verwoestende veldbrande in Noordwes verlede week is deur sterk winde aangehelp en het minstens 286 600 ha weiding vernietig.

Mnre. Ian Vosloo (45), ’n boer, en die twee plaaswerkers, mnr. Shadrock Moeto (29) en ene Nsakisan, is aan brandwonde dood. Agri Noordwes probeer nou in samewerking met die provinsiale departement van landbou dat sekere gebiede in die provinsie tot rampgebied verklaar word sodat boere vir staatshulp kan kwalifiseer. ”

Die Vosloos boer naby Groot Marico (net anderkant my plekkie) en Koster is weer die dorp net voor mens Swartruggens kry.  Naby naby naby aan ons.

Kom ons skryf die hektare wat afgebrand het in “taal” wat makliker is om aan te dink:

 

‘n vierkant van 286 000 hektaar is meer as 500km lank en 500km breed.

 

Dink daaraan dat jy van Kaapstad tot by George ry en van George af Colesberg toe, daarvan na Calvinia en uiteindelik terug Kaapstad toe.  Die area binne jou roete is alles afgebrand (en dis nog steeds aansienlik minder as 286 000 hektaar!!)

 

 

(Susan Moll 30/11/1952-1/9/2011)

 

Vaarwel skoonsus.  Mag jy nou rus en vrede vind en weer kan lag en werskaf.

Amper lente!

 

 

Heits! Dis amper lente en orals kom die nuwe bloeisels en blare asof magies uit die vaalbruin takke.  Die son kom soggens vroeër op en die ganse op die meer is al weer voor my wekker wakker en aan die gang.  Trek julle partytjiepakkies aan en geniet ‘n heerlike dag!

Treurgrond

Die eerste maal was ek, as ek reg onthou, in st. 8.  So die derde van die kinders in die skool se ouers het vir die Weermag gewerk en so ‘n derde was plaasjapies.  Ons het groot geword met terroriste en ontruimingsoefeninge en prentjies van hoe verskillende land- en personeelmyne lyk.  Maar die oggend toe ons hoor hoe die van Tonders op Abenab vermoor is, was die hele skool verslae en teen die grond.

Abenab is ‘n ou myn net so entjie buite Grootfontein en ons het met die fietse daarheen gery en in die myn geswem en kleilat gespeel in die syskagte.

Die skurke het die oom en tannie agter die bakkie aangesleep, hulle met panga’s doodgekap en toe in die mynskag afgegooi.

Maar dit was lank gelede, in ‘n ander land in ‘n ander tyd in ‘n ander bedeling.

Laas jaar kry ek ‘n kopie van Karin Brynard se boek “Plaas Moord” as ‘n geskenk.  Die boek is ‘n “whodunnit” wat op die ou end niks te doen het met die begrip “plaasmoord” soos wat ons daaraan dink nie.  Ek kan maar net dink dat sy, indien sy persoonlike ondervinding van plaasaanvalle gehad het ‘n ander titel sou kies, maar nou ja, elke mens moet maak soos dit vir hulle goed is.

Soggens lees ek die Business Day, Star en Beeld.  Dit is opmerklik hoe die Engelse koerante en TV-nuus daarvan wegskram om te praat oor die veiligheidsituasie op plase.  Dit wil voorkom of dit vir hulle, soos Chris Roper skryf in een van sy opinies, dink dat enigiemand wat iets daaroor sê “right-wing morons” is.  Is ek dan ‘n verregse rassistiese moroon omdat ek omgee wat met plaasmense, mense soos my ma en pa, my broer en sy gesin, gebeur?  Is ek ‘n idiotiese kakie-draende swarthater omdat dit my bekommer om saans op die plaas langs die vuur te sit met my pistool op my skoot terwyl ek tussen die nagklanke luister vir vreemde geluide?

Voor in my kopie van Treurgrond het Chris van Zyl geskryf:

“Nie alle leesstof hoef mooi te wees om betekenis te hê nie.”

Anders as wat mens seker sou verwag is daar geen gruwelfoto’s in die boek nie.  Vir elk van die vorige 20 jaar is daar ‘n berig oor een plaasaanval en dan ‘n lys van die plaasaanvalle wat hulle in Beeld se argief opgespoor het, 2 617 altesaam.

In sy voorwoord skryf hy:

“Meer Suid-Afrikaanse boere is vermoor as die totale getal mense wat tydens die Mau-Mau-opstand in Kenia, die Portugese onttrekking uit Angola en Mosambiek, die aanslag teen die destydse Rhodesië en die era van die Grensoorlog in die noorde van Namibië vermoor is.

En die gewelddadige aanvalle duur voort.”

Wanneer gaan iemand wat ‘n plaas bewerk en bestuur weer net ‘n boer kan wees wat vir hulself ander mense kos produseer en nie ‘n gewelddadige rassistiese slawehandelaar nie wat almal in die land ontneem van kosbare grond en geleentheid om te ontwikkel en om opgelei te word?

Later raak dit maar seker net makliker om jou kop weg te draai en te vergeet.

Wat is dit??

 

 

Wat is dit met hierdie jaar? Dis of die hele wêreld aan die brand is.  Die Arabiese lande is nou al vir maande in chaos gedompel (ek het my bedenkinge of die nuwe bedelings in daai lande enigsins ‘n verbetering gaan wees op wat vroeër daar was), in Zimbabwe raak almal net meer hard line en militant, Japan het die allerverskriklikste rampe beleef, Irene is besig om Amerika uitmekaar te waai, New Zealand is uitmekaar geruk, die wêreld se ekonomie is op sy kop gedraai, hier by ons wil dit voorkom of ‘n groot deel van die samelewing totaal vergeet het daar ‘n moontlikheid van beskaafd saam lewe is en dat dit nie nodig is om alles en almal af te breek en te vernietig nie.  Is dit net ek of gebeur daar hierdie jaar buitengewoon baie “abnormale” goed?

 

Olienhoutboom met jou dik stompe en lang takke.  Sê vir my hoe oud is jy?  Hoeveel eeue staan jy al hier op die koppie en kyk uit oor die vallei?  Het jy die Anglo-Boereoorlog beleef en is iemand dalk onder jou doodgeskiet?  Hoeveel maal is jy al gebrand en het dit maar oorleef?  Is dit van brand dat jou stam ‘n huisie vir ‘n kind maak, of was jy iewers bietjie siek?  Het daar al baie kinders onder jou arms kom sit met grassies in hulle hare gedraai? Toe ou olienhoutboom, vertel my toe…