Feeds:
Bydraes
Kommentare

Treurgrond

Die eerste maal was ek, as ek reg onthou, in st. 8.  So die derde van die kinders in die skool se ouers het vir die Weermag gewerk en so ‘n derde was plaasjapies.  Ons het groot geword met terroriste en ontruimingsoefeninge en prentjies van hoe verskillende land- en personeelmyne lyk.  Maar die oggend toe ons hoor hoe die van Tonders op Abenab vermoor is, was die hele skool verslae en teen die grond.

Abenab is ‘n ou myn net so entjie buite Grootfontein en ons het met die fietse daarheen gery en in die myn geswem en kleilat gespeel in die syskagte.

Die skurke het die oom en tannie agter die bakkie aangesleep, hulle met panga’s doodgekap en toe in die mynskag afgegooi.

Maar dit was lank gelede, in ‘n ander land in ‘n ander tyd in ‘n ander bedeling.

Laas jaar kry ek ‘n kopie van Karin Brynard se boek “Plaas Moord” as ‘n geskenk.  Die boek is ‘n “whodunnit” wat op die ou end niks te doen het met die begrip “plaasmoord” soos wat ons daaraan dink nie.  Ek kan maar net dink dat sy, indien sy persoonlike ondervinding van plaasaanvalle gehad het ‘n ander titel sou kies, maar nou ja, elke mens moet maak soos dit vir hulle goed is.

Soggens lees ek die Business Day, Star en Beeld.  Dit is opmerklik hoe die Engelse koerante en TV-nuus daarvan wegskram om te praat oor die veiligheidsituasie op plase.  Dit wil voorkom of dit vir hulle, soos Chris Roper skryf in een van sy opinies, dink dat enigiemand wat iets daaroor sê “right-wing morons” is.  Is ek dan ‘n verregse rassistiese moroon omdat ek omgee wat met plaasmense, mense soos my ma en pa, my broer en sy gesin, gebeur?  Is ek ‘n idiotiese kakie-draende swarthater omdat dit my bekommer om saans op die plaas langs die vuur te sit met my pistool op my skoot terwyl ek tussen die nagklanke luister vir vreemde geluide?

Voor in my kopie van Treurgrond het Chris van Zyl geskryf:

“Nie alle leesstof hoef mooi te wees om betekenis te hê nie.”

Anders as wat mens seker sou verwag is daar geen gruwelfoto’s in die boek nie.  Vir elk van die vorige 20 jaar is daar ‘n berig oor een plaasaanval en dan ‘n lys van die plaasaanvalle wat hulle in Beeld se argief opgespoor het, 2 617 altesaam.

In sy voorwoord skryf hy:

“Meer Suid-Afrikaanse boere is vermoor as die totale getal mense wat tydens die Mau-Mau-opstand in Kenia, die Portugese onttrekking uit Angola en Mosambiek, die aanslag teen die destydse Rhodesië en die era van die Grensoorlog in die noorde van Namibië vermoor is.

En die gewelddadige aanvalle duur voort.”

Wanneer gaan iemand wat ‘n plaas bewerk en bestuur weer net ‘n boer kan wees wat vir hulself ander mense kos produseer en nie ‘n gewelddadige rassistiese slawehandelaar nie wat almal in die land ontneem van kosbare grond en geleentheid om te ontwikkel en om opgelei te word?

Later raak dit maar seker net makliker om jou kop weg te draai en te vergeet.

Wat is dit??

 

 

Wat is dit met hierdie jaar? Dis of die hele wêreld aan die brand is.  Die Arabiese lande is nou al vir maande in chaos gedompel (ek het my bedenkinge of die nuwe bedelings in daai lande enigsins ‘n verbetering gaan wees op wat vroeër daar was), in Zimbabwe raak almal net meer hard line en militant, Japan het die allerverskriklikste rampe beleef, Irene is besig om Amerika uitmekaar te waai, New Zealand is uitmekaar geruk, die wêreld se ekonomie is op sy kop gedraai, hier by ons wil dit voorkom of ‘n groot deel van die samelewing totaal vergeet het daar ‘n moontlikheid van beskaafd saam lewe is en dat dit nie nodig is om alles en almal af te breek en te vernietig nie.  Is dit net ek of gebeur daar hierdie jaar buitengewoon baie “abnormale” goed?

 

Olienhoutboom met jou dik stompe en lang takke.  Sê vir my hoe oud is jy?  Hoeveel eeue staan jy al hier op die koppie en kyk uit oor die vallei?  Het jy die Anglo-Boereoorlog beleef en is iemand dalk onder jou doodgeskiet?  Hoeveel maal is jy al gebrand en het dit maar oorleef?  Is dit van brand dat jou stam ‘n huisie vir ‘n kind maak, of was jy iewers bietjie siek?  Het daar al baie kinders onder jou arms kom sit met grassies in hulle hare gedraai? Toe ou olienhoutboom, vertel my toe…

Veldbrand

(foto: R von Moltke)

 

 

Ek het al voorheen geskryf oor die verskrikking van ‘n veldbrand.  So twee weke gelede het ‘n Nampower bakkie aan die brand geslaan by my broer naby (ok, nie naby nie, maar soort van naaste aan) Gobabis en ‘n veldbrand veroorsaak wat 1500 hektaar afgebrand het.  Amper ‘n week later het van die groot ou kameeldoringbome se stompe nog gesmeul.  Gelukkig is niemand beseer of dood in die brand nie.

 

Met die erge winde wat van die naweek af begin waai het in die binneland lyk dit my is dit nou weer tyd vir grootskaalse brandstigting – en die gepaardgaande verwoesting van die veld, plante, diere, alles (en moet asb nie vir my vertel van fynbosbrande wat so voordelig is nie – in die natuur brand fynbos net elke 14-20 jaar af).

 

Vir mense wat brand stig: die wiel draai, eendag gaan daar aan jou terugbetaal word vir al die diertjies en plante en goed wat jy vernietig.  Die kanse is goed dat jy nie gaan tronk toe gaan nie (wie gee tog nou om?), maar die lewe en die hiernamaals is lank, baie baie lank.  Jou tyd kom – wat jy saai sal jy maai.

 

 

As die son dreig om sy kop oor die horison te druk sien Milos Pavel die lang strepe van die vliegtuie wat goudblink teen die oggend se dowwe blou blink.  Hy skud sy kop toe hy dink dat dit nou vakansietyd by die huis is.  Hy wonder wat Jarmilla vandag doen, of hulle nog partymaal na Burgas op die Swart See gaan vir hulle vakansies.  Van Brno af was dit nie te ver nie, al was die Škoda nie altyd so betroubaar gewees vir lang ritte nie.

 

Hy verlang na die weemoedige swaar note van Ma Vlast, na die koue platteland met die groot woonstelblokke in elke dorpie.  Dáár het hy nooit voor die son opgestaan nie, dit sou doodeenvoudig vreemd wees om voor die haan se kraai by die laboratorium op te daag.

 

Ten minste waardeer die boeremense hier sy kennis en insig, nie soos die spul verwaande Franse wat reken alles uit Oos Europa is deur die hond aangedra nie.

 

“Mmmm… ‘n knertsie slivovice om die ete mee af te skop, helder sampioensop met ‘n gekookte eier in, of ‘n lekker stuk gebakte kaas met ham, dan goulash met gesnyde kluitjies en rooikool saam met ‘n lang glas bier.  Ai, dit sou nou lekker wees!”

 

Op sy selfoon blink die liggie en hy lees die sms: “Dobri den ou grote, speel jy nog lekker akkerbouer daar in die verte? Wanneer nooi jy my vir ‘n kuier daar, die somer is amper op sy kop hier in die noordelike halfrond. Mwah!”

 

Is dit toeval of werk die heelal maar so?

Arend

 

Arend is trotse heerser van die hemel.  Arend wek ontsag by sy prooi, die diere, die son.  Sy snawel en kloutjies het hy weliswaar by korhaan geleen eenmaal vir ‘n troue.  Aarend hou van hoog sweef op tuimelende lugstrome wat sy stert al korter druk.  Aarend se vlerke strek langer na die bollings wolke op warm dae.  Tot die bak vol druppels aanhou skink, verlig in strale wat die bome knak en hy moet wag geduldig in ‘n blaredak.  Aarendvoël sukkel met sy boordjie.  Aarendvoël se nek word dik.  Die vere rasper teen mekaar en ruk elkander woedend uit.  Aarendsvoël sweef al hoër.  Aarendsvoël geniet die aansitmaal.  Die slang en die meerkat hou in elk geval fokkol van vlieg.  Korhaan roep gereeld vir sy aanddrag terug.

 

Bitsig rammel die strale neer, skreeu die wind in wildbeesbekke, skoonma spoeg haar water vuur gelyk.  Op die vlak ruk hul een na die ander om, hardloop, vlug om weg te kom.  Voor haar tong haak hy, haak hul, vas en die dreuning trap oor en dan verby.

 

Aasvoël pik die rib, pik tot teen die been.  Aasvoël kots – te veel van ‘n oordaad niks.

 

 

“Kom nou julle twee, ek probeer my horende doof en siende blind hou om te kan balke saag, maar julle maak nou praatjies vir die vaak.”

 

“Ja Pa, erken maar, Pa kan nie slaap nie want ledigheid is die duiwel se oorkussing en Pa weet mos hy is so skelm soos die houtjie van die galg.”

 

***

 

Voor die eerste mossie poep klink daar ‘n kloppie aan die deur wat so toe is soos ‘n kleios se gat.  “Kom seun, gaan span gou die kar voor die perde sodat alles klopdisselboom kan loop as ons soontoe toe en terug ry op die oumeid se rug.”

 

“Paaaa! Ons het nie soos Pa saam met die hoenders gaan slaap nie.  Buitendien, as Pa my gister gehuur het kon Pa my vandag gestuur het”

 

“Jou klein niksnut! Vandag dons ek jou op tot by oom Daantjie in die kalwerhok.  Hoe dink jy nou, hoe sal dit wees? Ek meneer, jy meneer, wie sal dan die wa moet smeer; dat ons kan jaag soos ‘n vetgesmeerde blits?”

 

‘n Bietjie later: “Ons gaan darem lekker deurdruk balke toe!”

 

“Tja! En hoeveel onse is daar miskien in jou pond.  Julle windlawaaie is gou by die bak, maar lekker lui by die vak.  Ek’s lus en los julle hier soos uile op ‘n kluit.”

 

“Toe Pa, vat ons saam, ons belowe troes nannies dat ons môre sal bakstaan en die werkies tjoef tjaf kafdraf.  Maar Pa moet darem ook briek aandraai met ons, hulle sê dis die flukse perde wat flou word.”

 

“Ja ja toe!,  Hulle vreet skille en honne dra brille, maar gaan dit nou oor die hondjie of die halsbandjie, jy weet mos baie honde is ‘n haas se dood!”

 

“Ja oom, dood het mos altyd ’n oorsaak, oom weet mos…”

 

“Ja ou groot lantern, weinig lig, ons sal maar sien môre as dit by die moue oprol kom, dan kom daar weer dadels van.  Die woorde syn goed, maar die eende lê die eiers.

 

“Kom julle nou, aanhef lê nog voor en die son trek al weer water.  As ons by ant Grieta aankom sê julle vir haar ons het net kom vuurhoutjies haal, ons moet nog ver ry.”

 

“So sê Pa altyd, maar ons weet mos van onse Pa: alte goed is buurmansgek”, merk hy droog op en vertel hoe hy plaas soek vir sy drie koeie.

 

“Seuna, jy’t ‘n knoop opgetel, nou wil jy ‘n baadjie daarom naai!  Die mense sal dink jy jaag bokke aan as hulle hoor jy wil plaas koop met daai drie rammelkas koeie.  Onthou, die aand lê nog ver, jy het dan nog kwalik ‘n kers nodig om te skeer.”

 

“Pa, daai plaas gaan ek koop – liewer afslyt as afroes!”